Oor die Danville Liggie Huis

- by Brenda van der Merwe

Vir die die afgelope 16 jaar versier ek my huis en tuin met ongeveer 50 000 kersliggies en ander kersversierings Die liggies brand van 1 Desember tot 1 Januarie tussen 19h00 en 23h00. Van die 6de Desember af het ons dan ook 'n kersvader wat met die kinders gesels en vir wie hulle 'n briefie kan skryf. Dis juis hierdie briefies wat ons laat besluit het om iets aan die armoede in ons area te probeer doen. Party kinders het vir vleis gevra, ander vir skoolklere en ander weer vir 'n beertjie vir mamma want sy kry nooit 'n ietsie vir kersfees nie. Die eerste jaar het ons uit ons eie sak aan sowat 200 kinders elk 'n geskenk en lekkergoedpakkie gegee. Dit was aanvanklik net vir hierdie area, maar het so geweldig gegroei dat dit intussen omliggende gebiede asook erens insluit. Mense kry bitter swaar.

Vandag deel ons reg deur die jaar kospakkies, klere, komberse ens uit. Maak ook nie saak waar jy bly nie, party kan dit net beter wegsteek as ander! Verlede jaar het ons aan sowat 11500 kinders elk 'n lekkergoedpak asook 'n geskenk gegee. 950 Minderbevoorregte gesinne het elk 'n kospakkie vir die feesseisoen ontvang en 450 Senior Burgers het ook 'n kospakkie en lekkergoedpakkie ontvang. Ons projek is absoluut afhanklik van die publiek en ons sou nie hierdie mense kon help sonder julle hulp nie. Ek het dalk "geboorte" gegee aan hierdie projek, maar die publiek het dit grootgemaak. In die verlede het ek dan ook namens die publiek vyf toekennings ontvang nl:

- Kolonnade / Erdekruik Vrou van die Jaar
- ATKV - Afrikoon
- Solidariteit - Ster in die Gemeenskap
- Rotary Foundation - Paul Harris Fellow
- Gauteng Provincial Government - Suksesvolle Kersprojek

Kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Jacques de Coning, Paul Buckby, Gerrie Pretotius, Freddi Nest, Tommy Oliver, Boeboe van vetkoekpaleis, Matt Stern van 7de laan en vele ander het al hier opgetree ten bate van ons projek en om die publiek se aandag daarop te vestig. Ons vra glad nie geld van die publiek maar wel geskenke, kleeflint, geskenkpapier, lekkergoed, koeldrank en kruideniersware. Ons aanvaar selfs tweedehandse klerasie, meubels, gordyne en ander huishoudelike artikels om aan die behoeftiges uit te deel. Selfs tweedehande kersversierings is welkom.

Daar is deesdae so baie mense wat liggies op hulle huise aanbring en dis pragtig! Ek spot altyd en se dat ek aan die Peter Pan sindroom ly, want in my hart sal ek altyd 'n kind bly en dat Kersfees vandag net oor geld gaan, maar ons liggies is liggies met 'n doel. Hierdie projek voorsien aan duisende kinders en gesinne iets wat hulle nie in die feesseisoen sou ken nie. Daar is so baie mense wat op my projek staatmaak en al kos dit geld en al is dit harde werk, baie beplanning en selfs 'n "gebedel" is dit alles die moeite werd. Wanneer 'n ouer of 'n kind na jou toe kom en vertel hoe dankbaar hulle is vir dit wat jy vandag vir hulle gegee het, want dit is al wat hulle hierdie feesseisoen ontvang het, vergeet mens van al die voorbereiding, moeite en "bedel". Jou grootste vrees is net altyd dat wanneer jy die laaste pakkie uitdeel,daar nog iemand in 'n ry staan wat ook die verwagting het om iets te kry en daar niks meer is om te gee nie. Dank die Heer dat julle, die mense met groot harte, my tot dusver so mildelik gehelp het dat ek nog nooit 'n kind moes wegwys omdat daar niks vir hulle was. Ons grootste probleem altyd is die ouderdomsgroep 9-12, meisies en seuns. In die verlede het ons maar van die nege tot twaalf se geskenke vir hulle gegee wanneer ons uithardloop. So ook die kospakkies, ons kon net aan soveel gesinne voorsien, want dit was al wat ons gehad het. Enige iemand is welkom om na die liggies te kom kyk en hulle kinders elke aand na kersvader te bring vir 'n geselsie en 'n foto. En hoe meer mense van ons projek te wete kom hoe meer sal dalk kan help om ons te help om iemand in nood te help. Dis tog waaroor die lewe gaan. Mens is so geneig om te vra waarom dit sleg met jou gaan, maar nooit om te vra wat het jy gedoen om dit te verdien as dit met jou goed gaan nie! Ek glo dat as jy dink die lewe druk en jy dink jy kry swaar of jy is ongelukkig, vat al jou probleme en pak dit in 'n mandjie en as almal om jou doen dit ook doen en al die mandjies in 'n ry plaas, dat jy weer jou eie mandtjie sou terugvat, want dan besef mens eers dat jou probleme 'n druppel in die emmer was in vergelyking met ander s'n.

Baie dankie vir al julle gebede en ondersteuning.

Namens al hierdie mense wat uit ons projek voordeel trek bedank ek julle uit die diepte van my hart.

Brenda van der Merwe.

Lees in Engels